Wednesday, February 26, 2014

Week: 2 tot 8 Maart 2014:


Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 2 Maart 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 18 tot 27              Tema:   Die Godstad: gevul met dié Lig en dié Skat

Die stad se “... tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.” (Openbaring 21:22)

Besprekingsvrae:

  1. Noem waarhede waarvan ons leer as Jesus-mense, wat net te goed kan wees om waar te wees.
  2. Hoekom kan ons met sekerheid sê dat hierdie waarhede wel 100% suiwer is?
  3. Hoe kan ons die simboliek van die Godstad en die waarhede wat geld vir Jesus-mense met mekaar in verband bring in die lig van ons teksvers (Openbaring 21:22)?
  4.  Wat kan die inwoners verwag omdat Hy die Alles in die Godstad is?
  5. Bespreek elkeen van die volgende geestelike behoeftes/waarhede en die waarde daarvan vir ons as Jesus-mense:

·         Hy is Teenwoordig ... want sonder Hom kan ons nie ‘n sekonde van ons lewe nie;

·         Hy is Omgee ... want sonder Hom kan daar nie liefde in ons wees nie;

·         Hy is Slimheid ... want Hy gee ons gesonde verstand om ons lewe mee te lewe;

·         Hy is Versorger ... want Hy weet wat ons elkeen regtig nodig het;

·         Hy is Trooster ... want Hy ken ons diepste hartseer;

·         Hy is Toekoms ... want Hy sal daar wees in die onsekerheid oor wat wag;

·         Hy is Alles ... want Hy laat ons nooit in die steek nie.

 
6.       Dink aan enige ander geestelike behoeftes/waarhede wat vir Jesus-mense geld.

 
7.       Dink aan woorde in die oortreffende trap soos “sterkste” wat die teenwoordige God in die Godstad kan beskryf.

 Kom ons sê net opreg: “Enigste Lig in my lewe, dankie dat gereinigde ek U in alles kan aanbid.”

Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Voorbeelde: Hoe kan gesê word dat God nie in die hemel bly soos ons al die jare gehoor het nie, maar in elke Jesus-mens? Hoe is dit moontlik dat inwoners van die Godstad reeds volledig vergewe is? Hoekom is dit so maklik om in die Godstad te wees, daar is geen vereiste en lang lyste van wette wat gehoorsaam moet word nie?
  2. Dit is waar op grond van die Bybel se boodskap, die geloof wat ons bely en die Heilige Gees wat in ons getuig.
  3. Die waarheid van die Godstad het met God self te doen, en meer spesifiek met die betekenis van sy teenwoordigheid. Hy is in die stad, Hy is die belangrikste Een in die stad, sy teenwoordigheid maak die stad vol, Hy kies hoe en waar en wanneer Hy in die stad is, Hy kies die inwoners met sy eie hand uit, Hy bepaal die ervaring om in die stad te wees vir die inwoners, Hy is die Alles in die Godstad!
  4. Dat Hy onvoorwaardelik en oorvloedig aan alle moontlike geestelike behoeftes sal voorsien.
  5. Hier is nie werklik regte of verkeerde antwoorde nie.
  6. Daar kan baie moontlike korrekte antwoorde hier wees.
  7. Woorde soos slimste, beste, liefste, mooiste, grootste, nabyste, ens.

Wenk aan besprekingsleier:

Moedig groeplede aan om die Heilige Gees wat in hulle woon en werk, te vertrou in die korrektheid van antwoorde wat gegee word.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

Friday, February 14, 2014

Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 16 Februarie 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 18 tot 21                              
Tema:   Die Godstad: suiwer, mooi en stewig

“Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos ‘n skoon spieël lyk.” (Openbaring 21:18)

Besprekingsvrae:

  1. Hoe sal julle die volmaakte mens in God se oë beskrywe? Noem al die ideale eienskappe of karaktertrekke wat ons graag in mekaar sal wil belewe.

  1. Hoe is die enigste manier om ‘n aangename persoon in alle opsigte te wees?


  1. Hoekom wil Hy van jou so ‘n pragtige en aangename mens maak?


  1. Bespreek die feit dat elke Jesus-mens reeds volkome gereinig is van alle sonde deur die bloed van die Lam.
 

  1. Bespreek die feit dat elke Jesus-mens vervul is met die volledige werking van die Gees van God.


  1. Ter wille van wat of wie is die Heilige Gees besig om van jou ‘n beter mens te maak?
 

  1. Wie of wat die fondament van die Godstad?
 

  1. Wat is die simboliese betekenis van die goue strate in die nuwe Jerusalem?
 

  1. Wat is die valse en tydelike fondamente wat ons as mense geneig is om ons lewens op te bou?
 

  1. Hoe wil die Heilige Gees jou fokus in die lewe verander?


Laat elkeen van ons eenvoudig vra: “Herbouer van my lewe, bou asseblief op die heel beste Fondament ter wille van Uself.”

 
 Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

1.        Ander mense ervaar jou as ‘n uitsonderlik aangename persoon in alle opsigte; jy is nooit in enige meningsverskille of bakleiery of harde woorde betrokke nie; jou daaglikse lewe is stabiel, rustig en jy is in volle beheer van alles in jou lewe; alle verhoudinge waarin jy lewe, is gesond en verrykend en steeds aan die ontwikkel; jy is emosioneel gesond en ‘n inspirasie vir alle mense wat jou pad kruis; jy beskik oor die vermoë om met insig en wysheid in elke moontlike situasie op te tree; en jy straal innerlike vrede en vreugde opreg en spontaan uit.

  1. Dit is presies waarmee die Gees in elke Jesus-mens as Godstad besig is!
  2. Jy is reeds volkome gereinig van alle sonde deur die bloed van die Lam; jy is vervul met die volledige werking van die Gees van God; en ter wille van die eer van Hom wat op die troon van jou hart sit, werk Hy self in jou!
  3. Jesus se eenmalige sterwe aan die kruis was volledig genoegsame offer vir alle sonde van alle mense van alle tye, en op grond daarvan is elke Jesus-mens volledig vergewe.
  4. “... die sewe Geeste voor die troon ...” in Openbaring 1 dui op die volledige werk van die Heilige Gees in elke Jesus-mens.
  5. Ter wille van die eer van Hom wat op die troon van jou hart sit, werk Hy in jou!
 

  1. As Jesus-mens is jou lewe gebou op die ewige en vaste fondament, Jesus Christus self.
  2. Jy straal die heerlikheid van God uit omdat Hy in jou woon. Jou lewe op die goue strate beteken dat jy die luukse het van ‘n onvoorwaardelike en oorvloedige lewe in Christus.
  3. Geld, status en sukses is tydelik en uiteindelik leeg. Die genot en plesier van hierdie goddelose wêreld bevredig geen permanente behoeftes nie.
 

  1. Laat die Gees jou fokus verskuif: leef in Hom, leef vir Hom, leef saam met Hom, leef ter wille van Hom!
 

Wenk aan besprekingsleier:

Maak seker dat hierdie betrokke groepbespreking op ‘n baie positiewe noot afsluit, veral omdat die fokus val op die volmaakte en volledige werk van God deur sy Gees in elke Jesus-mens.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

 

Wednesday, February 5, 2014

Week: 10 tot 15 Februarie 2014:


 
Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 9 Februarie 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 12 tot 17               Tema:   Die Godstad: perfekte ewige blyplek

“Die engel ... het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.” (Openbaring 21:15)

Besprekingsvrae:

  1. Hoe dink julle voel God oor elkeen van ons? Brei bietjie uit hoe ons oor die jare in die kerk geleer is oor hoe God teenoor ons optree.
  2. Waar woon God op hierdie oomblik?
  3. Hoe kan ons uit Openbaring 21: 12 tot 17 leer dat elke Jesus-mens baie kosbaar is in God se oë?
  4. Wat is die simboliese betekenis van die lengte, breedte en hoogte van die Godstad?
  5. Wat is die simboliese betekenis van die getal 12 000?
  6. Wat is die simboliese betekenis van die dikte van die muur om die stad?
  7. Wat leer Jesus-mense dus uit die simboliek van die nuwe Jerusalem, of soos ons dit nou noem, die Godstad?

Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Jy is verseker “ok” in God se oë as jy nog gewonder het. Daar is geen fout met jou nie. Hy is nie kwaad vir jou nie. Om die waarheid te sê, Hy het jou na sy beeld gemaak en jou as sy verteenwoordiger op aarde geplaas. Hy het jou so verskriklik baie lief, dat Hy die hoogste prys betaal het vir jou redding, sy eie geliefde Seun het vir jou gesterf. En toe stop dit nie daar nie, Hy kom woon sommer self in jou deur sy Heilige Gees, sodat jy eerstehands die heel beste hulp in die hele wêreld in jou kan hê.
  2. Hy is oral en alomteenwoordig, maar elke Jesus-mens is ook God se perfekte ewige blyplek.
  3. Gemeet met ‘n goue meetstok, só kosbaar is jy! Simbolies beteken dit dat jy aan God behoort en dat Hy sy eiendom sal beskerm. Die Godstad, jy as Jesus-mens, word ewig die mees beskutte blyplek vir God self! Hy kom maak jou sy eiendom om in te kom woon en dan beskerm Hy self sy verhouding met jou.
  4. Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, dit is ‘n kubus-vorm soos Salomo se tempel se allerheiligste: “Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog.” (1 Konings 6:20) ‘n Volmaakte vorm van letterlik 2 220 km in elke rigting om die volmaakte woonplek vir die Inwonende Een te wees en waarin daar geen beperkte ruimte is nie. Simbolies die allerbeste en gerieflikste en luuksste blyplek vir Hom, wat sy heerlikheid in jou aan die verlore wêreld wil wys.
  5. Die getal 12 000 is die 12 stamme van Israel, die volk van God, in die volkomendheid (1000 maal) daarvan. Die volle getal van Jesus-mense van alle tye sal die volkomendheid ervaar binne hulle inwoning in en deur die volheid van die Gees van God.
  6. Die dik muur (144 x 22cm) wys simbolies na die beskerming vir die inwoners, veral om die bose uit te hou. Die see as blyplek van die bose het reeds verdwyn (Openbaring 21:1), maar nou is die inwoners ook beskut teen enige moontlike aanslag van die bose en watter slegte invloede daar ook mag wees.
  7. Jesus-mense het genoeg veilige blyplek vir altyd, naamlik in Hom self!

 

Wenk aan besprekingsleier:

Onthou dat dit in die verstaan van die boek Openbaring baie belangrik is om duidelik te onderskei tussen die letterlike betekenis en die simboliese betekenis van ‘n spesifieke beskrywing.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

Doom Charl  (sel 082 469 2499 of landlyn 012 734 1438 of epos charl.bredell@gmail.com)