Wednesday, February 5, 2014

Week: 10 tot 15 Februarie 2014:


 
Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 9 Februarie 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 12 tot 17               Tema:   Die Godstad: perfekte ewige blyplek

“Die engel ... het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.” (Openbaring 21:15)

Besprekingsvrae:

  1. Hoe dink julle voel God oor elkeen van ons? Brei bietjie uit hoe ons oor die jare in die kerk geleer is oor hoe God teenoor ons optree.
  2. Waar woon God op hierdie oomblik?
  3. Hoe kan ons uit Openbaring 21: 12 tot 17 leer dat elke Jesus-mens baie kosbaar is in God se oë?
  4. Wat is die simboliese betekenis van die lengte, breedte en hoogte van die Godstad?
  5. Wat is die simboliese betekenis van die getal 12 000?
  6. Wat is die simboliese betekenis van die dikte van die muur om die stad?
  7. Wat leer Jesus-mense dus uit die simboliek van die nuwe Jerusalem, of soos ons dit nou noem, die Godstad?

Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Jy is verseker “ok” in God se oë as jy nog gewonder het. Daar is geen fout met jou nie. Hy is nie kwaad vir jou nie. Om die waarheid te sê, Hy het jou na sy beeld gemaak en jou as sy verteenwoordiger op aarde geplaas. Hy het jou so verskriklik baie lief, dat Hy die hoogste prys betaal het vir jou redding, sy eie geliefde Seun het vir jou gesterf. En toe stop dit nie daar nie, Hy kom woon sommer self in jou deur sy Heilige Gees, sodat jy eerstehands die heel beste hulp in die hele wêreld in jou kan hê.
  2. Hy is oral en alomteenwoordig, maar elke Jesus-mens is ook God se perfekte ewige blyplek.
  3. Gemeet met ‘n goue meetstok, só kosbaar is jy! Simbolies beteken dit dat jy aan God behoort en dat Hy sy eiendom sal beskerm. Die Godstad, jy as Jesus-mens, word ewig die mees beskutte blyplek vir God self! Hy kom maak jou sy eiendom om in te kom woon en dan beskerm Hy self sy verhouding met jou.
  4. Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, dit is ‘n kubus-vorm soos Salomo se tempel se allerheiligste: “Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog.” (1 Konings 6:20) ‘n Volmaakte vorm van letterlik 2 220 km in elke rigting om die volmaakte woonplek vir die Inwonende Een te wees en waarin daar geen beperkte ruimte is nie. Simbolies die allerbeste en gerieflikste en luuksste blyplek vir Hom, wat sy heerlikheid in jou aan die verlore wêreld wil wys.
  5. Die getal 12 000 is die 12 stamme van Israel, die volk van God, in die volkomendheid (1000 maal) daarvan. Die volle getal van Jesus-mense van alle tye sal die volkomendheid ervaar binne hulle inwoning in en deur die volheid van die Gees van God.
  6. Die dik muur (144 x 22cm) wys simbolies na die beskerming vir die inwoners, veral om die bose uit te hou. Die see as blyplek van die bose het reeds verdwyn (Openbaring 21:1), maar nou is die inwoners ook beskut teen enige moontlike aanslag van die bose en watter slegte invloede daar ook mag wees.
  7. Jesus-mense het genoeg veilige blyplek vir altyd, naamlik in Hom self!

 

Wenk aan besprekingsleier:

Onthou dat dit in die verstaan van die boek Openbaring baie belangrik is om duidelik te onderskei tussen die letterlike betekenis en die simboliese betekenis van ‘n spesifieke beskrywing.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

Doom Charl  (sel 082 469 2499 of landlyn 012 734 1438 of epos charl.bredell@gmail.com)

No comments:

Post a Comment