Wednesday, March 5, 2014

Week: 9 tot 15 Maart 2014:


 

Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 9 Maart 2014:

Lees saam:          Openbaring 22: 1 tot 5                   Tema:   Die Godstad: gratis oorvloed lewe

“... water van die lewe ...” (Openbaring 22:1)

Besprekingsvrae:

  1. Sien die prentjie van die bejaarde man Johannes wat as banneling op die eiland Patmos die brief Openbaring skryf aan Christene wat so erg vervolg word dat hulle lewens in gevaar is en hulle van hongerte dood gaan. Hoe kan ons hierdie slegte omstandighede op vandag se omstandighede toepas?
  2. Wat verstaan julle onder die volgende woorde: “... elkeen wat dors het ... moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)?
  3. Wat bedoel Jesus toe Hy self gesê het: “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ... na die Gees verwys.” (Johannes 7:38-39)
  4. Wat behels die voordele wat ons as inwoners van die Godstad deel na aanleiding van die woorde “... dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit.” (Openbaring 22:1)
  5. Hoe maklik of moeilik is dit om ‘n Jesus-mens te wees (of dan ‘n inwoner van die Godstad)?

 Kom ons sê net opreg: “1000 dankies, Oorvloed-gewer, vir die verniet-lewe!”

 Moontlike antwoorde:          (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Dink aan jou eie onsekerhede van tekort aan liefde, of geld, of goeie gesondheid, of innerlike kalmte, of waaraan jy ook al tekort mag hê. Hier kan baie ander voorbeelde uit mense se lewens of omstandighede wees.
  2. Daar word vir die oorspronklike lesers van Openbaring en vir jou oorvloed belowe. En dit alles nog gratis en verniet ook. Jy hoef NIE met jou lewe te betaal om ‘n Jesus-mens te wees NIE, Jesus het klaar sy lewe aan die kruis daarvoor gegee. Jy hoef NIE te betaal vir jou plekkie eendag by Jesus se voete in die hemel NIE, Hy bied dit sonder enige verdienste aan. Jy hoef NIE God se guns te soek NIE, Hy bederf jou met al sy goedheid onvoorwaardelik, omdat Hy is wie Hy is.
  3. Ons as Jesus-mense word vol gemaak met die Gees van God, sodat Hy ons kan gebruik as kanale van oorvloed lewe, die lewe waarna die verlorenes smag. Ons is God se antwoord op elke tekort, elke pyn, elke hartseer – so het Hy besluit om te wys wie Hy regtig is. Hy is besig om die wêreld ‘n beter plek te maak vir elkeen wat vir Hom plek in sy lewe maak. Dit alles gebeur in die Godstad: in ons bekeerde verhouding met Hom, in ons band met die geloofsgemeenskap waarin ons Hom aanbid.
  4. Alles wat mooi is, alles wat goed is, alles wat met liefde te doen het, alles wat opbouend en vernuwend is, kom van ons Inwonende-Skepper-Gees-God!
  5. Dit is die maklikste en allerbeste om ‘n inwoner van die Godstad te wees! Geen druk, geen tekort, geen prestasie, geen boosheid, geen ekkigheid vir elke geliefde en elke soekende een van ons.

Wenk aan besprekingsleier:

Hierdie week se bespreking gee die geleentheid om net lekker ontspanne te kuier rondom al die voordele en voorregte en seëninge wat ons as Jesus-mense het.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

No comments:

Post a Comment