Monday, May 12, 2014

Week: 11 tot 17 Mei 2014:


 

Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 11 Mei 2014:

Lees saam:      Matteus 5: 14 tot 16               Tema:  Om jou Lig te laat skyn

“Julle is die lig vir die wêreld ... Laat julle lig skyn ...” (Matteus 5: 14a en 16a)

Besprekingsvrae:

  1. Wat lyk alles vir julle verkeerd en negatief in die wêreld daar buite? (jammer dat ons met so ‘n negatiewe vraag begin)
  2. Praat met mekaar oor wat julle as sonde sien en hoe ons as Jesus-mense daaroor behoort te voel.
  3. Hoe hanteer mense, wat nie Jesus-mense is nie, die sonde in hulle lewe?
  4. Praat met mekaar oor die duiwel en hoe ons as Jesus-mense oor hom behoort te voel.
  5. Waar is die antwoord vir Jesus-mense teen die sonde en die duiwel?
  6. Hoe kan Jesus-mense seker maak dat ons Jesus se Lig laat skyn?
  7. Watter hulp of raad sal vir julle help om makliker vir ander van Jesus te kan vertel?

Moontlike antwoorde:            (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

1.      Om te verstaan hoe belangrik die Lig is wat ons laat skyn in hierdie wêreld, moet ons eers besef hoe donker is hierdie wêreld waarin ons is. Hierdie wêreld is donker hoofsaaklik as gevolg van twee faktore: die sonde wat daar in elke mens is en die duiwel wat nog werksaam is totdat Jesus finaal weer kom.

2.      Die sonde sal ‘n faktor bly in alles wat verkeerd loop op hierdie aarde. Ons is almal sondaars wat van nature geneig is om die verkeerde te kies. Jesus-mense is egter sondaars wat vergifnis gewaarborg is op grond van Jesus se verdienste en word deur die Heilige Gees in ons van sonde vry gemaak.

3.      Daarteenoor bly nie-Jesus-mense om in die sonde voort te lewe, en dit is nag, want dit bederf die lewe van ander – die voortgaande sonde in verlore mense, is die direkte oorsaak van al die haat en chaos in vandag se wêreld.

4.      Die duiwel is steeds ‘n aktiewe bewerker van haat en alle vorme van boosheid. Met Jesus se sterwe aan die kruis, is die Satan vasgebind om slegs met beperkte mag ‘n verwoestende invloed te wees in mense se lewens wat nie aan Jesus behoort nie. Hierdie demoniese werke sal voortgaan totdat Jesus finaal op die wolke verskyn tydens sy finale koms van hierdie wêreld.

5.      Met Jesus, kom die Lig, en die Lig is sterker as die donkerte, sterker as enige ander magte, ook sterkte as enige vorm van demoniese werking. So kom die ware Lig in elke Jesus-mens in, om ons te verlig en finaal alle vorme van duisternis te verdryf. Jesus in ons verdryf die duiwel finaal uit ons, en Jesus kom nie halfhartig of gedeeltelik in ons in nie.

6.      Laat die Gees toe om deur jou die Jesus-Lig in jou, te laat skyn in ander se lewens.

7.      Hierdie antwoorde sal ek, naamlik Doom Charl, graag van elke omgeegroep wil ontvang om te hanteer in die reeks “Vertel van Jesus”.

Wenk aan besprekingsleier:

Mag ek ‘n groot guns vra dat die omgeegroepe vraag 7 se antwoorde neerskryf en vir my gee.

No comments:

Post a Comment