Wednesday, January 29, 2014

Week: 3 tot 8 Februarie 2014:


 
Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 2 Februarie 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 9 tot 14                Tema:   Die Godstad: gebou met Aantrekkingskrag
“Die stad het die heerlikheid van God ...” (Openbaring 21:11a)

 Besprekingsvrae:
1.       Vertel vir mekaar: Wat sou jy graag wil hê dat die Gees in jou lewe moet verander? Wat laat jou minderwaardig voel? Hoe kan jy verander dat jy meer geliefd voel?

2.       Wat het hierdie veranderinge in ons lewe te doen met die Godstad?

3.       Hoe word ons verander om al hoe meer te lewe soos wat Hy wil hê ons behoort te lewe?

4.       Wat kan ons verwag van die Gees-gedrewe bouwerk in ons?

5.       Wat is die simboliese betekenis dat daar drie poorte in elke van die vier kante van die Godstad is?
 6.       Watter vereistes word in Openbaring 21 gegee om inwoner van die Godstad te wees?
7.       Waarvoor is daar engele by elk van die 12 poorte?

8.       Wat kan ek van my kant af doen om meer geliefd te wees en op so ‘n wyse by te dra tot die aanskoulikheid van die Godstad?

 Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Hierdie is vrae wat gedurig iewers in ons elkeen leef. Dis tog lekker om mooi dinge oor jouself te hoor. Dis tog sinvol om goed met ander mense oor die weg te kom omdat hulle jou aangenaam belewe. Dit is lekker om goed oor jouself te voel.
  2. “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5:25) Die Een wat in elke Jesus-mens is, is besig met die bouwerk in jou. En doel met sy Gees-werk in jou, is sy eie eer.
  3. In Openbaring 21 lees ons hoe beeldskoon en pragtig en luuks die stad beskrywe word. Dit is simbolies God se doel met elkeen van ons: beeldskoon van binne en buite, pragtige unieke persoonlikheid en al die mooiste eienskappe om almal rondom ons se lewens te verryk. Hy herbou jou lewe sodat jy al hoe meer “na Hom lyk”.

  1. Hierdie Gees-gedrewe bouwerk hou nooit op nie. Tog is dit ons geleentheid om net al hoe meer in Hom te ontdek waarmee Hy in ons besig is, naamlik om ons totaal en al oor te maak en volledig nuut te laat lewe. “... sal die Gees julle op ‘n splinternuwe manier laat leef.” (Romeine 8:10, Die Boodskap) En hoe langer en hoe meer word elke Jesus-mens so aantreklik en aanloklik dat ander ook soos ons wil wees. Die mooi en die goeie in ons, wat slegs deur die Gees se werk sigbaar word, lok ander vreemdelinge nader aan die Godstad om ook inwoners te word.

  1. Hiervoor is die baie poorte van die Godstad nóú oop in alle windrigtings vir enige een om in te kom. Die aanskoulikheid van die Godstad lok alle verlorenes om nader te kom en te keuse te maak om in te kom.
  2. Hier is geen sprake van lang lyste vereistes om ‘n inwoner van die stad te word nie.
  3. Die engele by die poorte is daar om diegene wat reeds inwoners is, te beskerm.
  4. Inwoner van die Godstad, jy kan meer geliefd wees wanneer jy bly sê: “Herbouer in my lewe, dankie vir U puik Gees-werk in my!”


Wenk aan besprekingsleier:

Hierdie week se bespreking bied ideale geleentheid vir elkeen wat stoei met sy eie swakhede en hoe dit ander negatief raak, wees dus baie sensitief in die hantering van die bespreking.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

Doom Charl  (sel 082 469 2499 of landlyn 012 734 1438 of epos charl.bredell@gmail.com)

www.doomcharl.blogspot.com vir die Oordenking, Deo-Diep-Dink en Besprekingsvrae.

No comments:

Post a Comment