Sunday, January 19, 2014

Week: 20 tot 25 Januarie 2014:

NG Gemeente Premiermyn: Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 19 Januarie 2014: Lees saam: Openbaring 21: 1 tot 8 Tema: Die Godstad: erken die Troon “Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”” (Openbaring 21:5a)

Besprekingsvrae:
  1. ‘n Nuwe jaar gee geleentheid vir ‘n nuwe begin. Noem vir mekaar moontlikhede van so ‘n nuwe begin in die alledaagse lewe.
  2. Hoekom dink julle is dit nodig om as Jesus-mens ook gereeld ‘n nuwe begin te maak?
  3. Watter simbool gebruik Johannes in Openbaring 21 om ons verhouding met die Here te beskrywe?
  4. Hoekom kies Doom Charl om eerder van die Godstad te praat as van die nuwe Jerusalem?
  5. Wat is die belangrikste betekenis van die Godstad?
  6. Waar woon God vir ons as Jesus-mense?
  7. Waarmee is Hy besig in jou lewe as Hy simbolies sit op die troon van jou hart? 
  8. Wat beteken dit dat God jou lewe beheer?
  9. Hoe kan jy vir God op die troon van jou hart te verwelkom?
  10. Noem praktiese maniere waarop jy God se heerskappy kan “erken” in jou lewe. Moontlike antwoorde: (slegs vir die oë van die besprekingsleier)
    1. ‘n Nuwe werk, of nuwe kollegas, of nuwe skooljaar, of nuwe projek, of nuwe huis, of nuwe fase in jou huwelik, of wat ook al vir jou nuut mag wees.
    2. In jou geloofsverhouding met God as Jesus-mens, wil Hy ook vir jou nuwe ervaringe en nuwe ontdekkings gee om jou te laat groei.
    3. Die beeld van die nuwe Jerusalem, die stad van God, of die Godstad.
    4. Omdat Jerusalem vir meeste van ons ‘n ver en vreemde plek is, terwyl “Godstad” dieselfde uiteindelik beteken en ons beter daarmee kan identifiseer.
    5. Die Godstad verwys na die plek waar God woon.
    6. Vir ons as Jesus-mense woon Hy nie op ‘n ver en vreemde plek nie. Hy is nie onbereikbaar verwyderd in die hoë hemel nie. Nee, God is volledig deur sy Gees woonagtig en werksaam in elke mens wat sy hart vir Jesus oopgemaak het. Jý is die Godstad waarin Hy gekies het om in te trek met sy Gees.
    7. Die troon is simbool van heerskappy en in beheer wees.
    8. Hy wil jou lewe liefdevol en sonder dwang help beheer. Hy wil jou help met jou gedagtes, keuses, besluite, emosies, verhoudings, behoeftes, en wat jy ook al nodig het. Hy is nie die oorneem-tipe nie, Hy wil net dáár wees vir jou, Hy wil net déél wees van alles in jou lewe. Sy manier van in beheer wees, is gerieflik en met wysheid.
    9. Hy wil ‘n nuwe geleentheid vir jou gee om sy heerskappy in jou lewe te “erken”. Daar kan ook baie ander werkwoorde wees naas die woord “erken”, woorde soos “aanvaar”, “oorgee”, “toelaat”, ens. Solank dit nie dwang of ‘n las vir ons beteken nie.
    10. Dink gedurig aan Hom; praat soveel as moontlik met Hom; maak tyd in jou lewe vir Hom; soek maniere wat vir jou werk om Hom beter te ken; raak bewus in jou alledaagse dat HY IS! Wenk aan besprekingsleier: Moenie toelaat dat die boek Openbaring vir die groep ‘n probleem is om te verstaan nie, die vrae is eenvoudig opgestel om juis te help om die wonderlike geheimenisse van Openbaring maklik te kan verstaan.
Slotopmerking: Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is. Neem vrymoedigheid om enige onduidelikheid aan my deur te gee.

Doom Charl
(sel 082 469 2499 of landlyn 012 734 1438 of epos charl.bredell@gmail.com)

No comments:

Post a Comment