Thursday, January 23, 2014

Week: 26 Januarie tot 1 Februarie 2014:


 
Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 26 Januarie 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 1 tot 8                                   Tema:   Die Godstad: versier vir Jesus
“Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Openbaring 21:2b)
Besprekingsvrae:

  1. Vertel vir mekaar wie of wat is die Godstad, of nuwe Jerusalem, waarvan ons in Openbaring 21 lees.
  2. Lees saam Jesus se eie woorde in Johannes 14:20 en bespreek die toepassing daarvan ten opsigte van die simboliek van die Godstad.
  3. Wie of wat is die bruid waarvan ons lees in Openbaring 21: 2 en ander verse?
  4. Wanneer vind die bruilof plaas volgens die manier waarop Johannes dit vir ons verduidelik in sy Evangelie?
  5. Hoe kan ons die groei en aanpassings in hierdie huweliksverhouding tussen ons en Christus verstaan as daar nog soveel tekortkominge is?
  6. Hoe word Jesus-mense versier?
  7. Hoekom wil Hy ons versier?
  8. Hoe voel God oor die bruid?

Daarom kan elkeen eg en opreg bid: Inwonende Gees, trek my asseblief aan om vir U mooi te lyk.
........................................................................................................................................................................

Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Die Godstad verwys na die plek waar God woon. Vir ons as Jesus-mense woon Hy nie op ‘n ver en vreemde plek nie. Hy is nie onbereikbaar verwyderd in die hoë hemel nie. Nee, God is volledig deur sy Gees woonagtig en werksaam in elke mens wat sy hart vir Jesus oopgemaak het.
  2. Jesus het self gesê: “Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.” (Johannes 14:20)  Jý is die Godstad waarin Hy gekies het om in te trek met sy Gees.
  3. Die bruid is al die Jesus-mense, dus almal wat aan die kerk van Jesus Christus behoort, almal wat in die Godstad woon.
  4. In Johannes se denke het die bruilof reeds plaasgevind, Christus as Bruidegom en die uitverkorenes is reeds verenig, reeds een.
  5. Ons as uitverkore Jesus-mense sukkel ongelukkig met die sonde in ons en in ander om ons, maar leef reeds as oorwinnaars met Hom in ons. Die voltooiing en die vervolmaking wag natuurlik eers in die lewe hierna, maar dit is gewaarborg in Hom. En so is Hy in ons besig om ons te versier.
  6. “God het haar vergun ... fyn klere (wat) die regverdige dade van die gelowiges is.” (Openbaring 19:8) Alles wat Hy in ons wil verander en ons mee wil help en ons lewens mee wil verryk en van ons beter mense in sy oë maak, neem Hy voor verantwoordelikheid. In onsself kan ons nie goed wees nie, God kan ons nie regverdig verklaar op grond van ons eie goedheid en gehoorsaamheid nie, ons is nie daartoe in staat nie – daarom doen Hy juis heiligmaking in ons, so versier Hý ons!
  7. Om die prys wat die Lam, dit is die gekruisigde Jesus, vir elke Jesus-mens se vergifnis en redding betaal het, die moeite werd te maak. Hoor hoe sê Johannes dit: “... ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” (Openbaring 21:9b) Op grond van Jesus se volmaakte opoffering wat steeds voortgaan deur sy inwoning deur die Gees in ons, kom verbind Hy Homself in ‘n ewige liefdesverhouding met elke Jesus-mens.
  8. “Soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.” (Jesaja 62:5b)

Wenk aan besprekingsleier:

Daar is nie altyd net een regte antwoord nie, maar sekere antwoorde is net nader aan die kern van die saak – probeer dat die bespreking bly by die kern van die saak.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

Neem vrymoedigheid om enige onduidelikheid aan my deur te gee.

No comments:

Post a Comment