Monday, May 12, 2014

Week: 11 tot 17 Mei 2014:


 

Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 11 Mei 2014:

Lees saam:      Matteus 5: 14 tot 16               Tema:  Om jou Lig te laat skyn

“Julle is die lig vir die wêreld ... Laat julle lig skyn ...” (Matteus 5: 14a en 16a)

Besprekingsvrae:

  1. Wat lyk alles vir julle verkeerd en negatief in die wêreld daar buite? (jammer dat ons met so ‘n negatiewe vraag begin)
  2. Praat met mekaar oor wat julle as sonde sien en hoe ons as Jesus-mense daaroor behoort te voel.
  3. Hoe hanteer mense, wat nie Jesus-mense is nie, die sonde in hulle lewe?
  4. Praat met mekaar oor die duiwel en hoe ons as Jesus-mense oor hom behoort te voel.
  5. Waar is die antwoord vir Jesus-mense teen die sonde en die duiwel?
  6. Hoe kan Jesus-mense seker maak dat ons Jesus se Lig laat skyn?
  7. Watter hulp of raad sal vir julle help om makliker vir ander van Jesus te kan vertel?

Moontlike antwoorde:            (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

1.      Om te verstaan hoe belangrik die Lig is wat ons laat skyn in hierdie wêreld, moet ons eers besef hoe donker is hierdie wêreld waarin ons is. Hierdie wêreld is donker hoofsaaklik as gevolg van twee faktore: die sonde wat daar in elke mens is en die duiwel wat nog werksaam is totdat Jesus finaal weer kom.

2.      Die sonde sal ‘n faktor bly in alles wat verkeerd loop op hierdie aarde. Ons is almal sondaars wat van nature geneig is om die verkeerde te kies. Jesus-mense is egter sondaars wat vergifnis gewaarborg is op grond van Jesus se verdienste en word deur die Heilige Gees in ons van sonde vry gemaak.

3.      Daarteenoor bly nie-Jesus-mense om in die sonde voort te lewe, en dit is nag, want dit bederf die lewe van ander – die voortgaande sonde in verlore mense, is die direkte oorsaak van al die haat en chaos in vandag se wêreld.

4.      Die duiwel is steeds ‘n aktiewe bewerker van haat en alle vorme van boosheid. Met Jesus se sterwe aan die kruis, is die Satan vasgebind om slegs met beperkte mag ‘n verwoestende invloed te wees in mense se lewens wat nie aan Jesus behoort nie. Hierdie demoniese werke sal voortgaan totdat Jesus finaal op die wolke verskyn tydens sy finale koms van hierdie wêreld.

5.      Met Jesus, kom die Lig, en die Lig is sterker as die donkerte, sterker as enige ander magte, ook sterkte as enige vorm van demoniese werking. So kom die ware Lig in elke Jesus-mens in, om ons te verlig en finaal alle vorme van duisternis te verdryf. Jesus in ons verdryf die duiwel finaal uit ons, en Jesus kom nie halfhartig of gedeeltelik in ons in nie.

6.      Laat die Gees toe om deur jou die Jesus-Lig in jou, te laat skyn in ander se lewens.

7.      Hierdie antwoorde sal ek, naamlik Doom Charl, graag van elke omgeegroep wil ontvang om te hanteer in die reeks “Vertel van Jesus”.

Wenk aan besprekingsleier:

Mag ek ‘n groot guns vra dat die omgeegroepe vraag 7 se antwoorde neerskryf en vir my gee.

Wednesday, March 12, 2014

Week: 16 tot 22 Maart 2014:


 

Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 16 Maart 2014:

Lees saam:          Openbaring 22: 1 tot 5   Tema:   Die Godstad: waar Hy alles gee en oor alles tevrede is

“... die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte ...” (Openbaring 22:2)

Besprekingsvrae:

  1. Noem voorbeelde van probleme of krisisse of omstandighede wat in ons lewens voorkom, wat ons graag sal wil herstel.
  2. Sê net weer vir mekaar wat is die kern betekenis van die simboliek oor die Godstad?
  3. Waarna verwys “die sewe Geeste voor sy troon”  in Openbaring 1:4?
  4. Vertel van kere in julle lewens wat dit gevoel het asof die Here julle verlaat het.
  5. Wat beteken: “... die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte ...” (Openbaring 22:2)?
  6. Wat beteken: “Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.” (Openbaring 22:2)?
  7.  Wat beteken: “Daar sal nie ‘n enkele ding oorbly waarmee God ontevrede is nie.” (Die Boodskap)
  8. Wat is jou grootste honger of siekte in jou geestelike lewe?
  9. Waarmee is jy nog ontevrede in jou eie lewe?
  10. Waarmee dink jy is God nog ontevrede met jou?

Laat ons leef met die volgende in ons harte: “Oorvloed-Gewer, so opreg waardering dat U tevrede is met my!”


Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Voorbeelde is: gebroke verhoudings, siekte, oortrokke rekeninge, toetse wat geslaag moet word, ‘n probleem sonder ‘n oplossing, bekommernis oor moeilike situasie wat hanteer moet word nie, ens.
  2. God se volmaakte teenwoordigheid is in plek in elke Jesus-mens.
  3. Hy is volledig die Een wat altyd by ons is, al gebeur wat ook al.
  4. Hy kan nooit weggaan of verdwyn nie. Al loop dinge hoe erg verkeerd in ons lewens, is Hy self die Antwoord en die Voorsiening in alles in ons lewens.
  5. Daar is nie meer seisoene in die Godstad nie, en die betekenis vir ons is dat die Een op die troon van ons lewe, oorvloedig voorsien.
  6. Hy voorsien in elke vorm van fisiese genesing wat Jesus-mense die nodigste het, dit is alle vorme van honger of dors of siekte. Maar Hy voorsien by uitnemendheid in elke vorm van geestelike genesing, dit is die voortdurende herstel en opbou van ons intieme verhouding met Hom in ons.
  7. Binne die nuut-wordende verhouding wat elke inwoner van die Godstad het, word alle grense wat skade veroorsaak finaal verwyder en alle vooroordele teenoor alle partye betrokke, word verwyder.
  8. God gee alles en is oor alles in jou lewe tevrede.
  9. God gee alles en is oor alles in jou lewe tevrede.
  10. Wat dit ook al mag wees wat die vrug in jou lewe steel, Hy wil dit herstel omdat Hy alles gee en oor alles tevrede is.

Wenk aan besprekingsleier:

Wees ingestel op mekaar se antwoorde, moenie so vooruit dink aan jou eie antwoord, dat jy nie die ander hoor nie.

Wednesday, March 5, 2014

Week: 9 tot 15 Maart 2014:


 

Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 9 Maart 2014:

Lees saam:          Openbaring 22: 1 tot 5                   Tema:   Die Godstad: gratis oorvloed lewe

“... water van die lewe ...” (Openbaring 22:1)

Besprekingsvrae:

  1. Sien die prentjie van die bejaarde man Johannes wat as banneling op die eiland Patmos die brief Openbaring skryf aan Christene wat so erg vervolg word dat hulle lewens in gevaar is en hulle van hongerte dood gaan. Hoe kan ons hierdie slegte omstandighede op vandag se omstandighede toepas?
  2. Wat verstaan julle onder die volgende woorde: “... elkeen wat dors het ... moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)?
  3. Wat bedoel Jesus toe Hy self gesê het: “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ... na die Gees verwys.” (Johannes 7:38-39)
  4. Wat behels die voordele wat ons as inwoners van die Godstad deel na aanleiding van die woorde “... dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit.” (Openbaring 22:1)
  5. Hoe maklik of moeilik is dit om ‘n Jesus-mens te wees (of dan ‘n inwoner van die Godstad)?

 Kom ons sê net opreg: “1000 dankies, Oorvloed-gewer, vir die verniet-lewe!”

 Moontlike antwoorde:          (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Dink aan jou eie onsekerhede van tekort aan liefde, of geld, of goeie gesondheid, of innerlike kalmte, of waaraan jy ook al tekort mag hê. Hier kan baie ander voorbeelde uit mense se lewens of omstandighede wees.
  2. Daar word vir die oorspronklike lesers van Openbaring en vir jou oorvloed belowe. En dit alles nog gratis en verniet ook. Jy hoef NIE met jou lewe te betaal om ‘n Jesus-mens te wees NIE, Jesus het klaar sy lewe aan die kruis daarvoor gegee. Jy hoef NIE te betaal vir jou plekkie eendag by Jesus se voete in die hemel NIE, Hy bied dit sonder enige verdienste aan. Jy hoef NIE God se guns te soek NIE, Hy bederf jou met al sy goedheid onvoorwaardelik, omdat Hy is wie Hy is.
  3. Ons as Jesus-mense word vol gemaak met die Gees van God, sodat Hy ons kan gebruik as kanale van oorvloed lewe, die lewe waarna die verlorenes smag. Ons is God se antwoord op elke tekort, elke pyn, elke hartseer – so het Hy besluit om te wys wie Hy regtig is. Hy is besig om die wêreld ‘n beter plek te maak vir elkeen wat vir Hom plek in sy lewe maak. Dit alles gebeur in die Godstad: in ons bekeerde verhouding met Hom, in ons band met die geloofsgemeenskap waarin ons Hom aanbid.
  4. Alles wat mooi is, alles wat goed is, alles wat met liefde te doen het, alles wat opbouend en vernuwend is, kom van ons Inwonende-Skepper-Gees-God!
  5. Dit is die maklikste en allerbeste om ‘n inwoner van die Godstad te wees! Geen druk, geen tekort, geen prestasie, geen boosheid, geen ekkigheid vir elke geliefde en elke soekende een van ons.

Wenk aan besprekingsleier:

Hierdie week se bespreking gee die geleentheid om net lekker ontspanne te kuier rondom al die voordele en voorregte en seëninge wat ons as Jesus-mense het.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

Wednesday, February 26, 2014

Week: 2 tot 8 Maart 2014:


Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 2 Maart 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 18 tot 27              Tema:   Die Godstad: gevul met dié Lig en dié Skat

Die stad se “... tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.” (Openbaring 21:22)

Besprekingsvrae:

  1. Noem waarhede waarvan ons leer as Jesus-mense, wat net te goed kan wees om waar te wees.
  2. Hoekom kan ons met sekerheid sê dat hierdie waarhede wel 100% suiwer is?
  3. Hoe kan ons die simboliek van die Godstad en die waarhede wat geld vir Jesus-mense met mekaar in verband bring in die lig van ons teksvers (Openbaring 21:22)?
  4.  Wat kan die inwoners verwag omdat Hy die Alles in die Godstad is?
  5. Bespreek elkeen van die volgende geestelike behoeftes/waarhede en die waarde daarvan vir ons as Jesus-mense:

·         Hy is Teenwoordig ... want sonder Hom kan ons nie ‘n sekonde van ons lewe nie;

·         Hy is Omgee ... want sonder Hom kan daar nie liefde in ons wees nie;

·         Hy is Slimheid ... want Hy gee ons gesonde verstand om ons lewe mee te lewe;

·         Hy is Versorger ... want Hy weet wat ons elkeen regtig nodig het;

·         Hy is Trooster ... want Hy ken ons diepste hartseer;

·         Hy is Toekoms ... want Hy sal daar wees in die onsekerheid oor wat wag;

·         Hy is Alles ... want Hy laat ons nooit in die steek nie.

 
6.       Dink aan enige ander geestelike behoeftes/waarhede wat vir Jesus-mense geld.

 
7.       Dink aan woorde in die oortreffende trap soos “sterkste” wat die teenwoordige God in die Godstad kan beskryf.

 Kom ons sê net opreg: “Enigste Lig in my lewe, dankie dat gereinigde ek U in alles kan aanbid.”

Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Voorbeelde: Hoe kan gesê word dat God nie in die hemel bly soos ons al die jare gehoor het nie, maar in elke Jesus-mens? Hoe is dit moontlik dat inwoners van die Godstad reeds volledig vergewe is? Hoekom is dit so maklik om in die Godstad te wees, daar is geen vereiste en lang lyste van wette wat gehoorsaam moet word nie?
  2. Dit is waar op grond van die Bybel se boodskap, die geloof wat ons bely en die Heilige Gees wat in ons getuig.
  3. Die waarheid van die Godstad het met God self te doen, en meer spesifiek met die betekenis van sy teenwoordigheid. Hy is in die stad, Hy is die belangrikste Een in die stad, sy teenwoordigheid maak die stad vol, Hy kies hoe en waar en wanneer Hy in die stad is, Hy kies die inwoners met sy eie hand uit, Hy bepaal die ervaring om in die stad te wees vir die inwoners, Hy is die Alles in die Godstad!
  4. Dat Hy onvoorwaardelik en oorvloedig aan alle moontlike geestelike behoeftes sal voorsien.
  5. Hier is nie werklik regte of verkeerde antwoorde nie.
  6. Daar kan baie moontlike korrekte antwoorde hier wees.
  7. Woorde soos slimste, beste, liefste, mooiste, grootste, nabyste, ens.

Wenk aan besprekingsleier:

Moedig groeplede aan om die Heilige Gees wat in hulle woon en werk, te vertrou in die korrektheid van antwoorde wat gegee word.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

Friday, February 14, 2014

Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 16 Februarie 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 18 tot 21                              
Tema:   Die Godstad: suiwer, mooi en stewig

“Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos ‘n skoon spieël lyk.” (Openbaring 21:18)

Besprekingsvrae:

  1. Hoe sal julle die volmaakte mens in God se oë beskrywe? Noem al die ideale eienskappe of karaktertrekke wat ons graag in mekaar sal wil belewe.

  1. Hoe is die enigste manier om ‘n aangename persoon in alle opsigte te wees?


  1. Hoekom wil Hy van jou so ‘n pragtige en aangename mens maak?


  1. Bespreek die feit dat elke Jesus-mens reeds volkome gereinig is van alle sonde deur die bloed van die Lam.
 

  1. Bespreek die feit dat elke Jesus-mens vervul is met die volledige werking van die Gees van God.


  1. Ter wille van wat of wie is die Heilige Gees besig om van jou ‘n beter mens te maak?
 

  1. Wie of wat die fondament van die Godstad?
 

  1. Wat is die simboliese betekenis van die goue strate in die nuwe Jerusalem?
 

  1. Wat is die valse en tydelike fondamente wat ons as mense geneig is om ons lewens op te bou?
 

  1. Hoe wil die Heilige Gees jou fokus in die lewe verander?


Laat elkeen van ons eenvoudig vra: “Herbouer van my lewe, bou asseblief op die heel beste Fondament ter wille van Uself.”

 
 Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

1.        Ander mense ervaar jou as ‘n uitsonderlik aangename persoon in alle opsigte; jy is nooit in enige meningsverskille of bakleiery of harde woorde betrokke nie; jou daaglikse lewe is stabiel, rustig en jy is in volle beheer van alles in jou lewe; alle verhoudinge waarin jy lewe, is gesond en verrykend en steeds aan die ontwikkel; jy is emosioneel gesond en ‘n inspirasie vir alle mense wat jou pad kruis; jy beskik oor die vermoë om met insig en wysheid in elke moontlike situasie op te tree; en jy straal innerlike vrede en vreugde opreg en spontaan uit.

  1. Dit is presies waarmee die Gees in elke Jesus-mens as Godstad besig is!
  2. Jy is reeds volkome gereinig van alle sonde deur die bloed van die Lam; jy is vervul met die volledige werking van die Gees van God; en ter wille van die eer van Hom wat op die troon van jou hart sit, werk Hy self in jou!
  3. Jesus se eenmalige sterwe aan die kruis was volledig genoegsame offer vir alle sonde van alle mense van alle tye, en op grond daarvan is elke Jesus-mens volledig vergewe.
  4. “... die sewe Geeste voor die troon ...” in Openbaring 1 dui op die volledige werk van die Heilige Gees in elke Jesus-mens.
  5. Ter wille van die eer van Hom wat op die troon van jou hart sit, werk Hy in jou!
 

  1. As Jesus-mens is jou lewe gebou op die ewige en vaste fondament, Jesus Christus self.
  2. Jy straal die heerlikheid van God uit omdat Hy in jou woon. Jou lewe op die goue strate beteken dat jy die luukse het van ‘n onvoorwaardelike en oorvloedige lewe in Christus.
  3. Geld, status en sukses is tydelik en uiteindelik leeg. Die genot en plesier van hierdie goddelose wêreld bevredig geen permanente behoeftes nie.
 

  1. Laat die Gees jou fokus verskuif: leef in Hom, leef vir Hom, leef saam met Hom, leef ter wille van Hom!
 

Wenk aan besprekingsleier:

Maak seker dat hierdie betrokke groepbespreking op ‘n baie positiewe noot afsluit, veral omdat die fokus val op die volmaakte en volledige werk van God deur sy Gees in elke Jesus-mens.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

 

Wednesday, February 5, 2014

Week: 10 tot 15 Februarie 2014:


 
Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 9 Februarie 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 12 tot 17               Tema:   Die Godstad: perfekte ewige blyplek

“Die engel ... het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.” (Openbaring 21:15)

Besprekingsvrae:

  1. Hoe dink julle voel God oor elkeen van ons? Brei bietjie uit hoe ons oor die jare in die kerk geleer is oor hoe God teenoor ons optree.
  2. Waar woon God op hierdie oomblik?
  3. Hoe kan ons uit Openbaring 21: 12 tot 17 leer dat elke Jesus-mens baie kosbaar is in God se oë?
  4. Wat is die simboliese betekenis van die lengte, breedte en hoogte van die Godstad?
  5. Wat is die simboliese betekenis van die getal 12 000?
  6. Wat is die simboliese betekenis van die dikte van die muur om die stad?
  7. Wat leer Jesus-mense dus uit die simboliek van die nuwe Jerusalem, of soos ons dit nou noem, die Godstad?

Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Jy is verseker “ok” in God se oë as jy nog gewonder het. Daar is geen fout met jou nie. Hy is nie kwaad vir jou nie. Om die waarheid te sê, Hy het jou na sy beeld gemaak en jou as sy verteenwoordiger op aarde geplaas. Hy het jou so verskriklik baie lief, dat Hy die hoogste prys betaal het vir jou redding, sy eie geliefde Seun het vir jou gesterf. En toe stop dit nie daar nie, Hy kom woon sommer self in jou deur sy Heilige Gees, sodat jy eerstehands die heel beste hulp in die hele wêreld in jou kan hê.
  2. Hy is oral en alomteenwoordig, maar elke Jesus-mens is ook God se perfekte ewige blyplek.
  3. Gemeet met ‘n goue meetstok, só kosbaar is jy! Simbolies beteken dit dat jy aan God behoort en dat Hy sy eiendom sal beskerm. Die Godstad, jy as Jesus-mens, word ewig die mees beskutte blyplek vir God self! Hy kom maak jou sy eiendom om in te kom woon en dan beskerm Hy self sy verhouding met jou.
  4. Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, dit is ‘n kubus-vorm soos Salomo se tempel se allerheiligste: “Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog.” (1 Konings 6:20) ‘n Volmaakte vorm van letterlik 2 220 km in elke rigting om die volmaakte woonplek vir die Inwonende Een te wees en waarin daar geen beperkte ruimte is nie. Simbolies die allerbeste en gerieflikste en luuksste blyplek vir Hom, wat sy heerlikheid in jou aan die verlore wêreld wil wys.
  5. Die getal 12 000 is die 12 stamme van Israel, die volk van God, in die volkomendheid (1000 maal) daarvan. Die volle getal van Jesus-mense van alle tye sal die volkomendheid ervaar binne hulle inwoning in en deur die volheid van die Gees van God.
  6. Die dik muur (144 x 22cm) wys simbolies na die beskerming vir die inwoners, veral om die bose uit te hou. Die see as blyplek van die bose het reeds verdwyn (Openbaring 21:1), maar nou is die inwoners ook beskut teen enige moontlike aanslag van die bose en watter slegte invloede daar ook mag wees.
  7. Jesus-mense het genoeg veilige blyplek vir altyd, naamlik in Hom self!

 

Wenk aan besprekingsleier:

Onthou dat dit in die verstaan van die boek Openbaring baie belangrik is om duidelik te onderskei tussen die letterlike betekenis en die simboliese betekenis van ‘n spesifieke beskrywing.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

Doom Charl  (sel 082 469 2499 of landlyn 012 734 1438 of epos charl.bredell@gmail.com)

Wednesday, January 29, 2014

Week: 3 tot 8 Februarie 2014:


 
Besprekingsvrae en antwoorde vir omgeegroepe na aanleiding van die preek op 2 Februarie 2014:

Lees saam:          Openbaring 21: 9 tot 14                Tema:   Die Godstad: gebou met Aantrekkingskrag
“Die stad het die heerlikheid van God ...” (Openbaring 21:11a)

 Besprekingsvrae:
1.       Vertel vir mekaar: Wat sou jy graag wil hê dat die Gees in jou lewe moet verander? Wat laat jou minderwaardig voel? Hoe kan jy verander dat jy meer geliefd voel?

2.       Wat het hierdie veranderinge in ons lewe te doen met die Godstad?

3.       Hoe word ons verander om al hoe meer te lewe soos wat Hy wil hê ons behoort te lewe?

4.       Wat kan ons verwag van die Gees-gedrewe bouwerk in ons?

5.       Wat is die simboliese betekenis dat daar drie poorte in elke van die vier kante van die Godstad is?
 6.       Watter vereistes word in Openbaring 21 gegee om inwoner van die Godstad te wees?
7.       Waarvoor is daar engele by elk van die 12 poorte?

8.       Wat kan ek van my kant af doen om meer geliefd te wees en op so ‘n wyse by te dra tot die aanskoulikheid van die Godstad?

 Moontlike antwoorde:  (slegs vir die oë van die besprekingsleier)

  1.  Hierdie is vrae wat gedurig iewers in ons elkeen leef. Dis tog lekker om mooi dinge oor jouself te hoor. Dis tog sinvol om goed met ander mense oor die weg te kom omdat hulle jou aangenaam belewe. Dit is lekker om goed oor jouself te voel.
  2. “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5:25) Die Een wat in elke Jesus-mens is, is besig met die bouwerk in jou. En doel met sy Gees-werk in jou, is sy eie eer.
  3. In Openbaring 21 lees ons hoe beeldskoon en pragtig en luuks die stad beskrywe word. Dit is simbolies God se doel met elkeen van ons: beeldskoon van binne en buite, pragtige unieke persoonlikheid en al die mooiste eienskappe om almal rondom ons se lewens te verryk. Hy herbou jou lewe sodat jy al hoe meer “na Hom lyk”.

  1. Hierdie Gees-gedrewe bouwerk hou nooit op nie. Tog is dit ons geleentheid om net al hoe meer in Hom te ontdek waarmee Hy in ons besig is, naamlik om ons totaal en al oor te maak en volledig nuut te laat lewe. “... sal die Gees julle op ‘n splinternuwe manier laat leef.” (Romeine 8:10, Die Boodskap) En hoe langer en hoe meer word elke Jesus-mens so aantreklik en aanloklik dat ander ook soos ons wil wees. Die mooi en die goeie in ons, wat slegs deur die Gees se werk sigbaar word, lok ander vreemdelinge nader aan die Godstad om ook inwoners te word.

  1. Hiervoor is die baie poorte van die Godstad nóú oop in alle windrigtings vir enige een om in te kom. Die aanskoulikheid van die Godstad lok alle verlorenes om nader te kom en te keuse te maak om in te kom.
  2. Hier is geen sprake van lang lyste vereistes om ‘n inwoner van die stad te word nie.
  3. Die engele by die poorte is daar om diegene wat reeds inwoners is, te beskerm.
  4. Inwoner van die Godstad, jy kan meer geliefd wees wanneer jy bly sê: “Herbouer in my lewe, dankie vir U puik Gees-werk in my!”


Wenk aan besprekingsleier:

Hierdie week se bespreking bied ideale geleentheid vir elkeen wat stoei met sy eie swakhede en hoe dit ander negatief raak, wees dus baie sensitief in die hantering van die bespreking.

Slotopmerking:

Neem asseblief vrymoedigheid om my op hoogte te hou as die vrae te moeilik of te maklik is.

Doom Charl  (sel 082 469 2499 of landlyn 012 734 1438 of epos charl.bredell@gmail.com)

www.doomcharl.blogspot.com vir die Oordenking, Deo-Diep-Dink en Besprekingsvrae.